Tuisblad     Kaarte     Galery     Artikels     Web Skakels     Kontak
 
Navigasie
Tuisblad
4x4 Roetes
Staproetes
Natuurlewe
Natuur-aktiwiteite
Akkommodasie
Kaarte
Galery
Artikels
Web Skakels
Kontak
 
4x4 Roetes
 
Staproetes
 
Flora
 
Fauna
 
Natuurlewe

Flora

'n Groot deel van Minwater is geleë in die vetplantkaroobioom, een van 34 brandpunte van biodiversiteit wat internasionaal erken word. 'n Brandpunt ("hotspot") is 'n area wat besonder ryk is aan biodiversiteit, in vergelyking met ander areas in dieselfde kategorie en wat bedreig word deur menslike aktiwiteite.

Die vetplantkaroo is besonders, want dit is die enigste brandpunt wat volkome droog is. Sulke droë landskappe het gewoonlik min spesies, maar die vetplantkaroo is 'n buitengewone uitsondering. In die streek is daar meer as 6000 plantspesies waarvan 40% nêrens elders in die wêreld voorkom nie. Meer as 1000 van die endemiese spesies is vetplante. Dit maak die vetplantkaroo die gebied wat die rykste is aan vetplante ter wêreld.

Die Oostelike Klein-Karoo (van Calitzdorp in die weste tot by Uniondale in die ooste en tussen die Swartbergreeks in die noorde en die Outeniekwabergreeks in die suide) is 'n oorgangsgebied tussen die westelike winterreëngebied en die oostelike somerreëngebied en kry beide winter- en somerreën. Boonop oorvleuel twee ander biome wat albei ook internasionale brandpunte van biodiversiteit is, nl. die fynbos- en subtropiese ruigtewoudbioom in hierdie gebied met met die vetplantkaroobioom. Daar kom ook baie van die Nama-Karoo (Groot-Karoo) se plante hier voor. Die gevolg is 'n verstommende diversiteit van plante (ongeveer 2500 spesies) in die gebied.

Minwater spog met ongeveer 550 van hierdie plantspesies en u gasheer sal (op versoek) baie soorte met interessante name soos ghaap, sosatiebos, baardrosie, dikvoet en koesnaatjie uitwys.

Fauna

As 'n mens fyn kyk, kan baie soogdiersoorte of tekens van hulle teenwoordigheid gesien word. Die volgende soogdiere is al hier gesien: klipspringer, gewone duiker, grysbok, steenbok, vaalribbok, eland, koedoe, kolhaas, vlakhaas, rooihaas, dassie, bobbejaan, bont-, grys- en witkwasmuishond, kleinkolmuskejaatkat, ratel, erdvark, rooijakkals, bakoorvos, maanhaarjakkals (aardwolf), rooikat, vaalboskat, ystervark, verkeie muisspesies en laaste, maar nie die minste nie, luiperd.

Meer as 140 voëlsoorte is al hier opgemerk, o.a. die skaars witkruisarend en witkruispaddavreter (witkruisvleivalk). Geen voëlkyker sal teleurgesteld hier weggaan nie.

Verder is daar baie bergskilpaaie en ander reptiele, insekte en ander 'goggas' - die vetplantkaroobioom is ook 'n kernarea van biodiversiteit vir reptiele en 'n groot verskeidenheid groepe ongewerweldes.

Kopiereg ©2005 - 2007 Minwater Eco Avonture
Webtuiste Ontwikkelling en Instandhouding: Fresh Lemon Media