|
Minwater maak voorsiening vir alle ervaringsvlakke.
Die volle afstand van die 4 x 4 roetes is ongeveer 30 km (6-8uur) en bestaan uit vier roetes, nl. Rooiberg, Steenbokrant, Sandberg en Kloof.
Al die moeilikste roetes of gedeeltes van roetes kan vermy word. 'n Volledige roetekaart sal voorsien word.
Die gradering van die roetes is gedoen op die volgende skaal:
1: Baie maklik. Geskik vir onervarenes in 4 x 4's sonder laestrekratte ("low range") en
4 x 2's met ewenaarslotte.
2: Maklik tot matig: 'n Mate van ervaring en vierwielaandrywing aanbeveel.
3: Matig. Ervaring en laestrekratte aanbeveel.
4: Moeilik. Ervaring en laestrekratte noodsaaklik; herwinningstoerusting en 'n
ewenaarslot aanbeveel.
5: Baie moeilik. Hope ervaring, 'n ernstige 4 x 4 en herwinningstoerusting noodsaaklik; ewenaarslotte sterk aanbeveel.
Rooiberg
Gradering: 2
Dit is 'n kort roete van slegs 7 km (2 uur). Die roete se draaipunt is op die hoogste kruin van die Rooibergreeks. Dit is 'n wonderlike uitkykpunt.
As gevolg van die ruwe terrein, word dieselfde pad met die op- en afgaan gebruik. Die pad is plek-plek taamlik steil (die laaste 2 km klim 'n mens bykans 300 m ), maar die padoppervlakte is redelik goed as dit droog is.
Steenbokrant
Gradering: 3
Hierdie kort roete van net 4,5 km (1 uur) is 'n sirkelroete. Die pad gaan verskeie kere deur droë lope, waarvan minstens een spesiale sorg verg. Verder sal u 'n steil opdraand en rotsriwwe teëkom. 'n Redelike mate van ervaring en 'n voertuig met goeie grondvryhoogte is vereistes. Laestrekratte word sterk aanbeveel.
Sandberg
Gradering: Die Gat: 4 ; Die res: 2
Indien hierdie roete op sy eie gery word vanaf die plaashuis, is die volle afstand 17 km (3 uur). Die roete bestyg 'n groot plato bo-op Sandbeg. Ook hiervandaan kan 'n mens baie kilometers ver sien.
Die op- en afgaanroetes is verskillende paaie. Beide paaie is plek-plek taamlik steil en ru. Laestrekratte is egter nie noodsaaklik nie. Bo-op die plato is die roete oorwegend gelyk.
Die Gat
Hierdie opsionele gedeelte is op die westelike punt van die Sandbergroete. Die pad sak in 'n baie diep kloof, Appelfontein, in vir 'n afstand van slegs 500 m, maar 'n mens daal ongeveer 100 m. Die pad is 'n pas wat bokant 'n afgrond teen die berghang vasklou. Aan die bokant van die steilste 80 m van die roete is 'n draaiplek. Die pad is beslis net vir ervare bestuurders en 4 x 4's met laestrekratte en goeie grondvryhoogte (L.W. gradering:4). Ewenaarslotte word sterk anbeveel, asook 'n verkenning van die roete te voet voordat dit met 'n voertuig aangedurf word. In nat omstandighede moet hierdie stuk pad nie met voertuie aangedurf word nie.
Kloof
Gradering: 4/ 5
Die roete is slegs 1 km lank, maar een voertuig neem ongeveer 'n uur om dit te voltooi. 'n Verskeidenheid moeilike hindernisse soos rotsbanke, word teëgekom. Een daarvan, die Muur, bied selfs aan ervare bestuurders 'n besondere uitdaging. Die Muur kan egter vermy word.
Die roete is beslis slegs vir ervare bestuurders in ernstige 4 x 4's. 'n Baie goeie grondvryhoogte en laestrekratte is vereistes. Ewenaarslotte word sterk aanbeveel, asook 'n verkenning van die roete te voet voordat dit met 'n voertuig aangedurf word. Dit word verder aanbeveel dat daar gedurende die rit 'n persoon buite die voertuig is om die bestuurder deur die roete te 'praat'.
|